BAN DIT UIT!
  Baie Christene ervaar stagnasie in hul geestelike lewe. Hulle mis die vreugde en innerlike blydskap wat die kenmerke behoort te wees van 'n mens wat met God wandel.

Die rede kan baie eenvoudiger wees as wat hulle dink. Dit kan wees dat hulle in hul hart bepaalde blokkasies het wat dit vir hulle onmoontlik maak om hulself volkome toe te vertrou aan die genade van God en die vreugde wat daaruit vloei.

Hierdie blokkasies kan van allerlei aard wees. Daar is egter veral één gestalte daarvan wat besonder dikwels voorkom in ons lewe en dikwels die oorsaak is van ons geestelike armoede. Dit is dat ons toelaat dat griewe, wrokke en 'n inner-like afkeer van ander 'n plek in ons hart inneem.

Daar is baie mense wat ons leed en onreg aandoen. Soms het ons werklik rede om vir mense kwaad te wees. Die natuurlike reaksie van ons hart is om sulke mense te haat. Selfs al is ons te beskaafd om ooit eerlik teenoor onsself of teenoor andere te erken dat ons hulle haat, bly dit steeds waar.

Elke mens wat 'n grief teen sy medemens in homself omdra, koester 'n vorm van haat. Solank ons dinge teen ander hou en hulle nie van harte vergewe nie, kan egte liefde nie ons harte vul nie. En só lank bedroef ons die Heilige Gees wat die Gees van liefde is. Dit is dan ook geen wonder dat ons die innerlike vrede en vreugde mis wat die Heilige Gees graag in ons harte wil lê nie.

Ter wille van ons eie geestelike lewe en groei, is dit van die allergrootste belang dat ons sulke dinge uit ons lewe moet uitban. Ons moet innerlik gereinig word van al die griewe wat ons teen mense hou. Ons moet hulle vergewe. Ons moet met God bly worstel totdat Hy ons oorwinning gee oor elke vorm van haat. Voordat ons dáár kom, lewe ons nog ver benede die Christelike maat.

Dit gaan hier natuurlik oor iets wat totaal onmoontlik is in ons eie krag. Maar wanneer ons met geestelike dinge te make het, het ons gelukkig nie net ons eie krag om op terug te val nie. God staan gereed om ons kragtig te ondersteun! Wie daarom bid om só vergewensgesind te word, sal sekerlik nie tevergeefs bid nie… Willie van der Schyff
(Sel: 081 414 6441)

Indeks     Index